Welcome to Exit online - stories from South Africa's LGBT newspaper


HALLEJUJA! DIE KERK WAS TOE NOU DIE SKULDIGE PARTY
                        

Kyk, dat ‘n gay nou die ondenkbare gedoen het deur ‘n Kerk na die Hooggeregshof toe te sleep, nogal oor ‘n gay kwessie, verg moed en durf! Dawid teen Goliat!
Johan Strydom, die man met vaste beginsels en geen twyfel oor sy homoseksuele oortuiging en verhouding met God nie, het sowaar die saak teen die Moreleta Park NG Gemeente gewen, (nie dat ek ooit getwyfel het nie, after all, ons het darem nou ‘n grondwet wat verhoed dat die kerke soos in die ou dae die land regeer), en daarmee sommer vir ‘n paar homofobiese siele in die land daaraan herinner dat gays ook op ‘n plekkie in die son geregtig is in die land van ons!
As hy nou sy vlytige vingers waarmee hy gewoonlik orrel speel en musiek klasse gee, gebruik het om die kollekte bordjie bietjie ligter te maak, sou mens nou darem met reg kon sê: FIRE HOM! Die Bybel sê immers jy mag nie steel nie, en so terloops, jy mag ook nie egbreuk nie......!
Maar al wat dié arme man gedoen het was om in die stilligheid en privaat met die man in sy lewe in harmonie saam te lewe – tot iemand wat nou nie eers die guts gehad het om te sê wie hy/sy is nie, die kerk ingelig het dat hulle nou eintlik ‘n ketter in hul midde het.
Die kerkleiers het besluit, aikona, ons kan nou nie toelaat dat ‘n moffie ons ses studente van tussen 17 en 25 jaar oud by die musiek akademie leer waaroor die lewe nou eintlik in vandag se moderne samelewing gaan nie. Die feit dat hy nou eintlik net baie professioneel vir een lewenswyse adolessent en vyf volwassenes geleer het wat is D mol en waar sit mens die orrel aan en af, was nou skielik nie vir hulle van kardinale belang nie.
Hulle het namens die gemeente, wat so terloops nie almal saamstem nie, besluit hy hoort in die hel en toe vir hom summier die deur gewys weens sy verhouding met ‘n ander man, o, en darem ten minste na hulle hom eers die H2O program met liefde op ‘n skinkbord aangebied het en daardeur hom wou probeer “reg maak of bekeer” (die woorde van Regter Dion Basson aan Ds Van Der Spuy.)
Wat kan mens se? My tone het gekrul van lekker nadat ek en Anton hierdie hofsaak met belangstelling gevolg het en terselfdertyd ondersteuning aan Johan gegee namens die hele gay gemeenskap.
‘n Kwessie wat nou al vir jare ‘n knelpunt is in die Kerk, diskriminasie teenoor gays by die werk en talle vlakke in die samelewing het nou uiteindelik gestalte gekry in die hof, of soos daar getuig is in die hof – Johan het hierdie kwessie ‘n “gesig” gegee.
Is ons gays welkom (volgens God) in die Kerk, of nie? Hoekom word mense wat egbreuk pleeg nie ook ontslaan uit hul poste by die kerk nie?
Advokaat Ronel Tolmay het Ds Van Der Spuy en sy volgelinge nogal heel ongemaklik gehad met haar indringende vrae oor vroue wat nou in leiersposisies is, apartheid en natuurlik die feit dat mense wat geskei het en weer trou mos nou eintlik volhard met sonde.
Tydens die hofsaak het Johan selfversekerd en vierkantig by sy standpunt gestaan, terwyl die Kerk allerlei passies uitgevoer het met teologiese verduidelikings en storietjies oor hoekom homoseksualisme nou eintlik sonde is. Verskeie sienings is beklemtoon oor die rede waarom ‘n homoseksuele persoon nie in ‘n leiersposisie in die kerk kan of mag wees nie – ten spyte daarvan dat die sinode van 2007 bepaal het dat homoseksuele wel diakens, ouderlinge, dominees ens. kan wees.
Van Der Spuy het getuig dat Johan sy begeertes moes onderdruk het en selibaat lewe, maar geskeide mense wat hul sondes bely het, kry ‘n tweede kans by God. Sò ook kan vrouens nou dan wel ampsdraers wees – maar ons wag nou nog op ‘n antwoord oor hoekom God nou anderpad kyk oor dáárdie kwessie!
Ds Dirkie Van Der Spuy het mildelik en arrogant van tekste uit die Bybel gebruik gemaak om myns insiens, asook die van Johan en Pastoor Phillip Liebenberg (skrywer van Daar’s ‘n gay pastoor in my kop) homoseksualisme te veroordeel as sonde volgens die tekste terwyl dit eintlik afleidings is wat hý as dominee sélf maak en dan die Bybel gebruik om sy standpunte te regverdig as die wil en stem van God.
Die kerkleiers en gemeente het goed geweet hulle het Johan onregverdig afgedank, maar toe wanhopig en desperaat die regter probeer oortuig dat hy wel in ‘n leiersposisie was en as gevolg daarvan die arme (groot) bloedjies wat by hom klas loop op ‘n sondige paadjie kon lei.
Sekere gemeentes en individue is geneig om ‘n sondebewussyn aan gays op te dwing, maar Johan het getuig dat sy sake met die Here reg is. Homoseksualiteit kan volgens hom nie met sonde vergelyk word nie en verwag God nie van hom (alle gays) om straight te wees nie. Dit is ook die siening van Liebenberg nadat hy jare lank geswoeg het met die wroeging van gay wees. Sielkundiges, gebed en innerlike ‘n stryd met HOM kon niks aan sy situasie verander nie, jy is so gebore en gelaat staan.
Johan het nie tydens sy werksonderhoud vir die Kerk gesê hy is gay nie, juis om hierdie vooroordeel te vermy, maar toe die akademie se hoof , Janie De Bruin, hom gevra het daaroor nadat ‘n anonieme skinderstorie oproer en beroering in die kerk veroorsaak het, het hy dit, en met reg, nie ontken of bevestig nie. As gevolg daarvan het hy ‘n hoë prys betaal, iets wat hy glo onregverdig is en sy menswaardigheid aangetas het. Die Kerk het egter geglo dit is geregverdigde diskriminasie.
Dit is hierdie dispuut waaroor Regter Dion Basson moes besluit – is geloofsvryheid verhewe bo ons Grondwet?
Die antwoord is eenvoudig NEE. Mense kan glo wat hulle wil, maar jy kan nie sommer ander van hul brood en botter ontneem omdat jy as persoon glo hulle is sondaars nie. Johan het nie ‘n keuse gehad om hom tot – soos hy dit stel – meganismes te wend om die regte van gays in hierdie land te beskerm nie.
Natuurlik was (en is) die koeksister tannies vuriglik op die oorlogspad met die koekrollers in die een hand en “daai boek” (Regter Basson) in die ander hand, protesteer en kerm hulle bitterlik omdat hul geloofsvryheid hul nou kwansuis ontneem is.
Daar was sprake van appelleer, wat nie net die gemeente nóg ‘n paar honderd duisend rand sou kos nie, maar ook teenstrydig is met hul eie geloofsoortuiginge omdat die Bybel stipuleer dat jy nie ‘n medemens mag hof toe vat nie. In die geval van ‘n appel sou dit juis nou die Kerk wees wat hof toe hardloop.
Gelukkig het hulle wyslik besluit om maar minder duur kerk hoede te koop en Johan te betaal, ag, en darem om verskoning vra omdat die regter gesê het hulle moet. Ek het die idee gekry hulle wou appelleer nét oor daardie verskoning.
Maar daar is darem toe ‘n afgewaterde ou verskoninkie aangebied en is ook seker beter as niks, alhoewel die pyn en vernedering van dáái doring in die vlees hulle nog lank sal by bly.
Dankie Regter Basson, en ‘n gróót dankie aan Johan, Advokaat Ronel Tolmay SC, haar assistent en James Spies, die opdraggewende prokureur wat die saak behartig het.
Ek gaan sommer nou ‘n standbeeld van Johan voor my klub se deur staan maak, en Ds van Der Spuy nooi om die onthulling te kom doen. Vir sy moeite sal ek hom ‘n splinternuwe paar oogklappe gee want dit lyk vir my of hy daarvan hou om dit te dra!

(Mense met soortgelyke sake kan JAMES SPIES kontak by 012 3460380 of 0834430620)






By continuing to browse this web site you are certifying that you are over the age of 18