Die Equusite dae, toe gay liefde verbode was …..‘n Terugblik op die “Struggle”
Ai skatties, die paranoïese arrestasie van my en veertien mans meer as ‘n jaar terug by Camp David vir “openbare onsedelikheid”, het my genoop om die pen op te neem en julle te vertel van die dae toe ons óók toegesluit was op klagtes van openbare onsedelikheid wanneer twee mans met mekaar in KLUB EQUUSITE gedans het!
Betty Bangles het daardie jare hedonisties jag gemaak op die gays, en soos die spreekwoord sê, a field day gehad!
En het julle geweet dat die destydse gay koerant, LINK/SKAKEL, vandag onder ons bekend as hierdie wonderlike EXIT wat julle nou lees, ook ‘n paar keer verban was as “ongewenste leesstof!?”
Die regering, (lees NG Kerk…) het ons enigste onskuldige koerant onder dieselfde kam geskeer as pornografiese tydskrifte, wat destyds verbode leesstof was.
Die bewaarders van ons land se sedes het dit ook goed gedink om alle lede van die SAW of enige STAATSDEPARTEMENT amptelik te verbied om na Equusite toe te kom!
Ja, klubs was ondergronds in die laat sewentigerjare, vroeë tagtigs. Verbode terrein! Dit was gesien as plekke van onheil, gevaar vir waardes en sedes van die samelewing. Duiwels grond! Sulke plekke was as ’n euwel beskou.
Dit was die Murray Jansen era. ‘n Tyd toe histeriese ma’s en teleurgestelde pa’s, (die wat wel gelukkig was om uit te vind), ons, geklassifiseer as sielsiek, (vandag nog), almal na oom Murray toe gestuur het vir berading en hulp. Dit was egter ‘n bestiering dat dié slim oom geweet het ‘n jakkals verander nie van streke nie, dus het die ontnugterde ouers op die ou einde die berading ontvang.
Menige drag queens sal jou vertel van nagte en selfs langnaweke in selle van Pretoria Sentraal Polisiestasie, toegesluit vir “VERMOMMING, MET DIE DOEL OM ‘n MISDAAD TE PLEEG!” En het hierdie “sight” nou gewoonlik Maandag oggend by die agbare Hof vir konsternasie gesorg!
Hofbeamptes was onseker of hulle die “vrouens” in die dames se selle moes aanhou, of in die mans se selle! (Maar skets nou vir jouself ‘n prentjie van drag queens wie se baard deur die gesmeerde make-up slaan, die pruik skeef sit en die rokke gekreukel is!)
Na ‘n paar arrestasies het my prokureurs ‘n tegniese puntjie in die wet ontdek wat bepaal dat vermomming nie van toepassing was as die persoon of persone ‘n mans onderbroek aangehad het nie - omrede die persoon as ’n man geïdentifiseer kon word!!
KAMERAADSKAP
Die eerste gay klub, BUTTERFLY, het sy ontstaan gehad in ‘n restaurant se kelder in Pretoria Wes. Die atmosfeer was wonderlik en daardie gevoel van kameraadskap, (eendrag maak mag, soos die boere nou onlangs nostalgies geraak het met De La Rey), het hooggety gevier.
Almal moes natuurlik ook hul eie drank bring want dranklisensies vir ‘n gay klub was so taboe soos ‘n swarte in die NG Kerk! Die gróót grap was, jy was nie toegelaat om drank wat oorgebly het weer huis toe vat nie, dit was ook onwettig…….. toe suip en fuif ons maar tot die son opgekom het!
Daarna het ‘n klub net om die draai van die sentraal polisiestasie (van alle plekke) oopgemaak. Die naam van die tweede klub kan ek nie onthou nie, maar in 1977 het ATHOS oopgemaak in die perseel in Pretoriusstraat waar Equusite toe ook later heen geskuif het.
Equusite het oorkant Athos onder in die kelder van die Doussy gebou in 1979 oopgemaak. Athos het vroeg 1980 toegemaak en leeggestaan totdat Equusite daarheen geskuif het einde 1982 nadat ‘n ene Luit. Ben Bieldt groot moeilikheid vir ons gemaak het by Dr Doussy en onder die polisie omdat die gays glo vroulike woonstelbewoners bokant Equusite seksueel geteister het! Die einste Bieldt sit vandag in die tronk lewenslank nadat hy eers uit die polisie is oor beweerde skelmstreke saam met ‘n garage- eienaar in Pretoria. So ‘n paar jaar gelede het hy sy vrou, Naomi, ten aanskoue van die personeel by haar garage doodgeskiet! In elk geval, hierdie man het ‘n paar verveelde vrouens van die woonstelle bokant ons opgekommandeer om ‘n verklaring wat hy opgestel het, woord vir woord, spelfoute en al, oor te skryf en in die hof te kom getuig dat die “moffies” hulle glo in die hysbakke molesteer.
Die regter het egter die sewende (8 maande swanger) getuie onderbreek toe sy, net soos die ander, tot vervelens toe gesanik het oor die homoseksuele van die homoseksuele klub, en volgens hulle dus “moffies”, wat seksuele voorstelle aan haar en die ander vrouens in die hysbak gemaak het. Hy wou by haar weet of sy besef wat ‘n “moffie” is, waarop sy vol bravade en met oortuiging geantwoord het: “Hulle is hase, edelagbare!”
Nadat die regter van sy sprakeloosheid herstel het, het hy aan haar verduidelik dat gays beslis nie seksueel aangetrokke kon gewees het teenoor ‘n swanger vrou nie, en die saak uitgegooi.
Die oorwinning het egter weinig verskil gemaak aan die situasie en ons is toe gevra om die gebou te verlaat wat gelei het tot die skuif oorkant die straat waar Equusite toe vir nog 14 jaar die enigste klub in Pretoria was. (Equusite was afgelei van ‘n klub in Amerika met die naam Equus – ons het net die -ite bygevoeg)
Die skuiwery na die nuwe perseel het sommerso tussendeur die dansende menigtes by die ou klub gebeur. Oud klubgangers het my onlangs vertel hoe geamuseerd almal in die klub was as ek deur die loop van die aand kort-kort ingekom het om matte en spieëls van die mure te ruk, ligte en klanktoerusting bokant die dansvloer af te haal ens. Die laaste dag moes die klubgangers selfs help om die laaste meubels oor die straat te dra instede van te dans! Daardie jare het die gay gemeenskap saam gestaan teen die onderdrukking en voort gejol ondanks eindelose teistering deur die polisie en gemeenskap.
BETOGING
Een Saterdagaand het ‘n paar lede van ‘n kerkgroep besluit om onder in die straat voor die klub te betoog teen gays. Elke keer toe iemand uit die klub gekom het, was daar dan ook dramaties gebid en het die dominee sy arms hemelwaarts gerig en gevra dat die arme persoon se siel tog gered moet word. (Vandag hoef ons net selibaat te bly.) Groot skok en verleentheid het geheers toe die dominee se eie seun onverwags en hangende aan ‘n fris man met die trappe afgetrippel het! Ek is mooi gevra om dié onbeskryflike skande uit die koerante te hou, en was sekerlik oorvloedig geseën toe ek ingestem het!
Op ‘n stadium het die polisie besluit, (kyk, die hele SAP was die destydse skerpioene, hulle het eindelose mag gehad en lasbriewe was vir niks nodig nie), ons mag nie meer op ‘n Saterdagaand na middernag dans nie, want dan was dit Sondag - en ons was veronderstel om Sondagoggend vroeg kerk toe te gaan sodat ons om vergiffenis kan vra vir ons sondes! Die klagte was “SABBATSONTHEILIGING!”
Toe installeer ons maar ‘n rooi lig in die DJ boks wat geaktiveer was vanaf ontvangs die oomblik as die polisie by die trappe opgehardloop kom. Ek, wat op daardie stadium self DJ was, het dan die musiek summier gestop en die plate inderhaas weggesteek.
Dit was nogal ‘n frustrerende situasie vir die polisie om 02h00 op ‘n Sondagoggend in ‘n klub in te storm en 200 glimlaggende mense botstil en in doodse grafstilte te sien staan op die dansvloer! Die gays het dan vir Betty Bangles triomfantlik en uitdagend aangekyk met ‘n uitdrukking van: “sien ons is soet, ons doen niks verkeerd nie!” Argumente deur die polisie dat hulle die musiek duidelik gehoor het is sarkasties en laggend deur die queens afgemaak as ‘n definitiewe gehoorprobleem! Uit vergelding het hulle ons dan in ‘n ry laat staan en deursoek vir dwelms, ID’s nagegaan en werk adresse neergeskryf om te gaan kyk of daar nie dalk ‘n troepie is wat hom op verbode terrein bevind nie! Diegene wat nie ‘n adres kon verskaf nie, moes dit binne twee dae by die polisiestasie gaan doen of die risiko loop om gearresteer te word. (Ek weet tot vandag toe nie hoe hulle jou sou kon gaan arresteer sonder ‘n adres in hul besit nie!)
Een aand het hulle ook fotos van almal geneem en egoïsties gespog, (lagwekkend), dat hulle die fotos in die koerante gaan laat publiseer. Sodoende kon die duistere onheilighede waarmee ons besig was vir ons ouers en familie, werkgewers en natuurlik die dominee, oopgevlek word.
TOILETTE
Daar was ook ‘n stadium wat die stadsraad besluit het ons oortree alle reëls en regulasies ten opsigte van “aparte toilet fasiliteite vir mans en dames”.
Dit was nogal ‘n tameletjie, want die drag queens het die damestoilette gebruik om hulle onderbroeke aan te trek ensovoorts. Hulle kon tog nie in die mans toilette gaan gesigte poeier en vir willy vasplak nie! Toe plaas die stadsraad ‘n verkeersbeampte vir ‘n paar aande buite die dames se toilet op wag om te kyk dat mans daar nie ingaan nie.
Siestog, die arme spietkop het nie veel kennis gehad van “cross-dressers” nie. Terwyl ek langs hom gestaan het en my oë gerol het vir arrogante drag queens wat opsetlik in en uit die damestoilette paradeer, het hy my vertel hoe jags hy nou is vir hierdie pragtige vrouens wat so swaar deur die lewe gestraf is om lesbiërs te wees!
Ag, en dan was daar die “trassie fixers”! Straight ouens wat gesuip raak in ‘n derderangse kroeg en dan besluit om die “holnaaiers en hase” te kom “reg” bliksem. Ons het natuurlik geen simpatie van die polisie gekry nie. Sake is net eenvoudig nie ondersoek nie, of hulle het geweier om ‘n saak te aanvaar – want ons verdien mos om aangerand te word volgens hulle. (Vandag nog)
Maar boetie, een aand het ‘n groep “moffie bashers” hul rieme behoorlik styfgeloop! ‘n Paar drag queens het drie van daardie ouens in die hospitaal laat beland nadat een se oog met die spykerhak van ‘n hoëhakskoen uitgeslaan is, nog een se kop oopgekloof is deur ‘n queen met haar handsak en die ander een se voortande uitgeslaan is met die “MISS GAY SA” se trofee! Hierdie molesmakers het natuurlik ook geen simpatie van die polisie gekry nie – want hulle het nie gaan vra nie………..te skaam om te erken hulle was goed deur die gays opgefoeter!
Om terug te kom na die situasie met die drank, dit was soos ‘n kat en muis speletjie. Die polisie was verbete daarop uit om ons te probeer vang vir die verkoop van drank sonder ‘n lisensie – wat ons natuurlik gedoen het – en ons was nie van plan om gedurig gevang te word nie. Toe ons wel gevang was, is diegene wat hul eie drank gebring het se trooswatertjies ook gekonfiskeer. In hierdie opsig het die gay gemeenskap bankvas agter ons gestaan – ek meen, wie wil nou partytjie hou sonder ‘n dora? (Vandag nog)
Aan die einde van die een gang in die klub het ons ‘n klein venstertjie gehad, rég langs die toilette, waar ons die drank verkoop het. Hierdie kamertjie was nie deel van ons perseel nie. Dit was ‘n aangrensende kamertjie van die perseel langsaan, en die venstertjie was verskuil agter ‘n kennisgewingbord wanneer dit toegemaak is. Tydens klopjagte het ons ook ‘n rooi liggie gehad wat geaktiveer was vanaf ontvangs wat die kroegman gewaarsku het. Hy het dan eenvoudig die venstertjie toegemaak. SANAB (SA NARKOTIESE BURO) het vrugteloos die perseel deursoek en kon nie verstaan hoe mense dit regkry om met ‘n yskoue bier in die hand staan terwyl hy/sy geen “cool box” besit nie. Die hoof van SANAB was so gefrustreerd met sy onbeholpe polisie dat hy een aand self daar ingestorm het om te kom kyk wat aan die gang was. Ook hy kon niks kry nie, maar agter die kroeg was ‘n verskeidenheid drankbottels vir dekorasie staangemaak op die rakke wat gevul was met tee, koffie, milo, water ens. en nés die ware produk gelyk het. Sonder om te dink het hy een van die bottels gegryp en oopgemaak om ‘n groot sluk te vat sodat hy kan proe of dit drank is. Hy het natuurlik nooit die dik laag muf wat op die tee in die nek van die bottel gevorm het raakgesien nie ……. julle kan self raai hoe vêr hy daardie vrot tee gespoeg het!
DIE DRANK STORIE
Onder die gays self het ons heelwat humoristiese situasies gehad oor die drank storie.
Baie gays wat vir die eerste keer klub toe gekom het, het nie geweet hulle moes hul eie drank bring nie, of het bloot op die ingewing van die oomblik besluit om klub toe te kom noodgedwonge sonder drank, of van hulle het net geld gehad vir die ingangsfooi, wat natuurlik daartoe gelei het dat hulle soms die ander se drank gesteel het!
Een ou queen was moedeloos omdat sy duur whiskey elke keer weg was as hy van die toilette af terugkom, toe bedink hy ‘n meesterplan om sy drank te beskerm. Hy het eenvoudig sy valstande in sy glas whisky gelos as hy toilet toe gaan!
Nodeloos om te sê, korrupsie, (vandag nog), het ook destyds gefloreer. Menige polisiebeamptes het by ons kom aanklop vir “bouncer” werk met die aanbod dat ons natuurlik vooraf gewaarsku sou word oor klopjagte indien ons hulle in diens sou neem.
In 1991 het ons bokant Equusite ‘n restaurant oopgemaak vir gays wat ook soos die destydse After Dark restaurant, kabaret gedoen het. Daniele Pascal het haar eerste vertonings daar gedoen, en Nataniël wat aan die begin van sy loopbaan eers Daniele se pianis was, het ook sy eerste vertoning daar gehou voordat hy dieselfde stuk in die Staatsteater se Rendezvous opgevoer het. Die eerste gay kerk (wat vandag nog bestaan) het ook daar op Sondae begin.
Equusite was ook die eerste klub wat anderskleuriges toegelaat het terwyl dit nog onwettig was. Daarvoor het ek ‘n R200 boete ontvang en ‘n misdaadrekord vir “bedrog”.
DIE GOUE JARE
Ja, dit was die goue jare van “clubbing”. Die hartklop van die gay kultuur was hier te vinde - alhoewel dit baie moed geverg het om uit die kas te klim en klub toe te gaan vir die eerste keer! Maar as jy eers daar was het jy daardie jare klub toe gekom om eerstens te jol, en dan ‘n lekker man te vang om saam huis toe te vat – dit is nou as jy nie dalk ‘n “quickie” in die toilet gehad het nie!
Ons het darem ook genotvolle tye gehad. VIGS was nie ‘n kwelling nie, misdaad was nie ‘n probleem as jy 04h00 in die more huis toe kruip nie, tema partytjies, skinder en elegante drag-kompetisies wat soos ‘n klein extravaganza aangebied was in teaters soos die Piet Van Der Walt teater en die jaarlikse gay parade, was hoogtepunte.
In 1984 het Equusite ‘n 21 dae gay toer aangebied, die eerste van sy soort na Amsterdam, Spanje, Griekeland, Londen en Parys. Die manne kon hul oë nie glo wat in Amsterdam se rooilig distrik aangaan nie. Hier by die huis het almal hulle koppe in ongeloof geskud as hulle hoor hoe vry en ongehinderd die gays daar lewe.
Die aanvaarding van andersheid deur sekere gemeenskappe en regerings in ander lande het ons het toe vas laat glo dat daardie utopiese vryheid nooit vir ons beskore sou wees nie. Vandag is dit, of so glo ons……….